NET 'N LASPOS
JOHAN VAN ZYL
Ek het twee spesiale boekies in my boekrak. Beide handel oor 'n viervoetige seeman wat 'n honde-lewe gelei het. Onderskeidelik uitgegee in 1942 en 1943, beskryf hulle grepe uit die avontuurvolle lewe van 'n sekere Groot Deense hond. Sy eienaar, ene Benjamin Chaney, was in April 1937, met die hond se geboorte, in beheer van die Britse Vloot se United Services Institute op Simonstad. In dié tyd, net voor en tydens die Tweede Wêreldoorlog, het die meesal Britse matrose dikwels met die jong hond in aanra-king gekom. Hy het gou met hulle 'n sterk vriend-skapsband gevorm en mettertyd ook so groot geword dat as hy teen 'n matroos opstaan, hy hom vierkantig in die oë kon kyk.
Hy het die problematiese gewoonte aangeleer om so dikwels as moontlik agter die matrose aan te drentel, selfs wanneer hulle met die voorstedelike trein na Kaapstad se uithangplekke reis. Dan het die meneer ook die trein bestyg en drie sitplekke volgelê, met die gevolg dat die kondukteurs voet neergesit en sy eienaar met drastiese stappe gedreig het. Maar teen dié tyd het die dier al celeb-status onder die matrose verwerf, en die vlootowerheid het toe, om die kwaai kondukteurs se wind uit hul seile te haal, die slim plan bedink om van die hond 'n matroos te maak! Mét die admiraal se stempel, bygesê.
Teen Augustus 1939 het sy naam offisieel in die vlootbemanningslys gepronk. Naam: Nuisance. Toe die klerk wat die register ingevul het, nog wonder wat hulle vir sy voornaam sal gebruik, het die luitenant gesê, "It's just Nuisance". Toe vul die moenie-nog-vrae-vra-nie-klerk die "Just" in as voornaam.
Daarmee saam het Nuisance sy eie unieke vloot-halsband ontvang, met 'n spoor-vrypas aangeheg sodat hy ongehinderd tussen Kaapstad en Simonstad kon treinry, 'n standaard matroospet en die rang Bevare Seeman (AB). En moenie vergeet nie: kos-oppie-huis soos enige gesoute seeman op geregtig is! Just Nuisance word toe ingedeel in die 'beman-ning' van die vlootkaserne HMS Afrikander by Froggy Pond. Daar het hy sy eie kooi gehad, maar hy het ook lêplek vir homself toegeëien oral waar hy kon, soos by die Union Jack-klub in Kaapstad – oral waar daar matrose was; hy het geen belangstelling in burgerlikes gehad nie, en ook nie in die ouens van hogere range met die goud op die mou nie.
So talryk en gevarieerd (en dikwels berug) het sy avonture geraak, dat hy 'n regte nuusmaker geword het. Die joernalis Leslie Steyn het dikwels oor die nou oral-bekende hond se manewales in die Cape Argus berig, en sy skryfsels toe later in boekvorm uitgegee. Siedaar: my twee waardevolle en skaars eerste-edisie boekies! Maar dis nie waar die beriggewing opgehou het nie; ek het ook nog ander leesstof oor dié hond. Probeer gerus Terence Sisson se boek Just Nuisance AB: his full story in die hande kry.
Nuisance se 'huwelik' met ene Adinda, op 1 Junie 1941, was gróót nuus. Twee kneweltjies is op 7 Au-gustus in Ermelo uit dié honde-eg gebore. Toe hulle groter word, is besluit om hulle in Kaapstad op veiling van die hand te sit om die oorlogshulpfonds te styf.
Hier is nie ruimte om van al die opspraakwekken-de insidente rondom Nuisance in die jare daarna te vertel nie. My dekking hier is dunner as die skil van 'n appel. Die keerpunt vir Nuisance het in begin 1944 by wyse van 'n motorongeluk gekom, waarin hy tweede-beste afgekom het. Die gevolg was dat daar by sy een heup skade was, met gevolglike geleidelike verlamming van sy agterlyf.
Begin April was die vloot se veearts genoodsaak om Nuisance, presies sewe jaar oud, uit te sit. Die tyding, glo dit of nie, het wêreldwyd versprei.
Nuisance is met volle militêre eerbewys op Kamp Klawer op Rooiheuwel te ruste gelê.



Fotos’: Die matrooshond in rustige luim op een van die groen sitbanke van die voorstedelike trein. Hoe goed onthou ek nie daardie sitplekke nie, uit my vyf jaar van treinry in die begin 60's toe ek op hoërskool was. In die fotos’ staan Nuisance by K S Scotney, matroos op die Britse kruiser HMS Birmingham, in Simonstad naby Jubilee Plein. My pa het my vertel dat hy self vir Nuisance dikwels te siene gekry het. In die fotos’ groet Nuisance een van sy baie tjommies. Hy het sy heldeverering beperk tot square rig-uniform draers.

JOHAN VAN ZYL